Tuesday, February 12, 2013

'n Laaste kuier saam met ma


‘n Laaste kuier saam met ma



Hier waar ek sit en skryf sien ek haar staan. Vir ma. Daardie dinsdag. Die laaste keer dat ek by haar gekuier het.
Daardie oggend het ek wakker geword en geweet. Vandag gaan ek vir ma kuier. Ek moes net. In my gemoed was n onrustigheid, n onstuimigheid wat nie wou bedaar nie.
Ek het vroeg die oggend voor haar huis gestop. Die toeter geblaas. Sy het op die stoep uitgekom. Vir ‘n oomblik verbaas na my motor gekyk. Ek het laggend vir haar n soentjie geblaas. Syt na my staan en kyk. Haar hande in haar sye, haar kop skeef gedraai. Haar oë het gelag en ‘n bree glimlag van verrassing het haar gesig opgehelder.
Al het ek dit op daardie oomblik nie geweet nie, was dit een van daardie oomblikke wat vir tyd en ewigheid altyd in my brein en my hart ingeets sou wees. Die beeld van ma soos sy daardie oggend op haar stoep gestaan het.
Ek het uitgeklim. Sy het nader geloop en gesê: “Maar dit is darem nou n baie groot verassing.” Ek het ‘n bos blomme na haar uitgehou. Rose, angeliere, fyn varings en groot pienk lelies. Sy het dit geneem en haar gesig in die geurige weelde gedruk. Sy het my gesoen en laggend n traan van haar wang gevee.
Het ek my daardie dag net verbeel of was daar ‘n sagte lig om haar. Dat daar n sagte hunkering in haar oë was? Hoekom o hoekom was daar niks wat my kon voorberei dat hierdie my laaste kuier by ma was nie?

Ons het die winkels ingevaar. Ek het vir haar 2 nuwe rokkies gekoop. Ek het haar probeer ompraat vir n sagte broekpak. Syt laggend haar kop geskud. Ma het glad nie langbroeke gedra nie. By die apteek geurige lyfroom en parfuum wat ek eers laf in die lug gespuit het sodat sy onder dit moes deurloop.  “En waarom al die persente, ek verjaar mos eers oor 3 weke?” het sy gevra, maar haar oë was blink en sag, gelukkig.
Ons het baie gelag, daardie laaste dag. Die simpelste opmerking het ons slap van lag teen mekaar laat leun. Ma het n ongelooflike sin vir humor gehad. Hoe moes ek toe weet dat die lag in huil gaan verander.
By die musiekwinkel het ek vir haar die nuutste Cathy Viljoen kasset gekoop. Syt met haar vinger daaroor gevryf. Daar het n liedjie oor die luidspreker gespeel: ‘One glad morning when this live is over I’ll fly away. To a land where joy shall never end. I’ll fly away...
Deur die blommewinkel se venster het ons na die handgemaakte lappoppe gekyk. Syt my vertel ouma het vir hulle sulke poppe gemaak as kinders. Ons het ingegaan en ek het n pop met n blou narpak aan in haar arms gedruk. Sy het dit vir n oomblik teen haar vasgedruk. Dalk het ek my verbeel maar haar blik het verby die blomme in die winkel gekyk. Daar vêr, waar ons mense nie kan sien nie. Het sy dalk die glinstering van strate van goud gesien? Of het sy aan haar ma gedink wat haar reeds vooruit gegaan het?
Laggend en al geselsend het ons deur die winkels geloop. Warm en moeg in die restaurant se sagte stoele gaan neerplons. Ons het oor die tafel vir mekaar gekyk en het ek my verbeel of was daar vir n slegs n oomblik n vreemde trek in haar oë. So asof sy toe reeds geweet het dat ek en sy nooit weer so oorkant mekaar sou sit nie. Het sy vir n oomblik jammer vir my gevoel omdat sy geweet het hoe seer dit vir my gaan wees as sy weg is....Ons het klein porsies kos en yslike nageregte bestel. Soos kinders dubbele dik melkskommels gedrink.  
Ons het gepraat en gepraat. Sy was bekommerd oor van haar kinders. Oor my pa wat van die huis gewerk het. Ekt geluister, alhoewel ek nie raad gehad het nie. Syt my vertel van n droom wat sy oor een van my broers gehad het. Die trane het oor haar wange geloop en sy het dit met n servet weggeklad. Daar was n dringendheid in haar, soos iemand wat op n reis gaan en alle take wil afhandel voor sy vertrek.
Sy moes geweet het dat sy ons gaan verlaat. Want weke voor die dag het sy my laat belowe dat ek na my twee klein sussies en my pa sal kyk as sy weg is. Maar ek, ek het nie vir een oomblik gedink dat dit ons laaste kuier saam is nie.
Toe ons later huistoe ry was ons altwee stil. Te stil besef ek vandag. By die huis het ons op die stoep getalm. Syt my haar lidrose gewys wat in malse oordadigheid oortrek was van dubbele pienk en rooi blomme. Haar varings wat gesond en groen uit hulle potte gepeul het.

Sy het my vertel dat sy al haar kaste uitgepak en skoongemaak het. Als wat sy nie gebruik nie, uitgegooi het. Hoe moes ek weet dit was nie net ‘spring cleaning’ nie. Dat sy besig was om gereed te maak om haar bruidegom te ontmoet nie. Dat die dinge van die aarde nie meer vir haar saak gemaak het nie. Elke kind se kaartjies,briefies ens is individueel uitgesoek en in n groot bruin koevert gebere met sy of haar naam op.
Syt vir my die briefie gewys wat ek vir haar in die hospitaal gestuur het toe my jongste sus gebore is, saam met die bord kos wat ek gekook het. “Vir mammie. My eerste poging. Jammer die boontjies het gebrand. Die pampoen is nie te sleg nie. Tannie Hannetjie het my raad gegee. Van mammie se groot dogter. Eleen.” Daarmee saam n fyn sakdoekie, waaraan ek met groot slordige steke n kantjie gewerk het.
Sy het vir ons koffie gemaak en ons het rustig in haar sitkamer gesit. Die orrel waarop sy elke oggend gespeel het, het oopgestaan. Die kinders het op haar skoot kom klim en sy het plek gemaak vir altwee. Syt het Lidus in sy sytjie gekielie tot hy skaterlag en vir Sussie teer op die groot lint in haar min haartjies gesoen. Het ek my verbeel of was daar vir n oomblik groot droefheid in haar oë toe sy na my kyk. Toe sy die twee kindertjies teer teen haar vasgedruk het.
Ek kon daardie dag nie my ry kry nie. Dit was asof n onsigbare mag my daar by ma se huis wou hou. Ek is bang om in die donker alleen te ry. Maar die donker het my daar kom kry. In ma se huis, terwyl ons die hoeveelste koppie koffie drink.
Ek het my handsak opgetel en weer neergesit. Getalm. Ek sou weer in haar huis kom na sy weg is. Maar wat is n huis sonder ‘n moeder?

Sy het op die sypaadjie gestaan en vir my gewaai toe ek ry. My oor en oor gemaan om versigtig te ry. Ek het in die spieëltjie gekyk en haar daar sien staan totdat ek in die hoofpad ingedraai het. Ek het die motor se noodligte aangesit as laaste groet. My verwonder aan die gevoel van absolute verlorenheid wat oor my kom lê het.
Dit het gevoel of ek my hart by ma agter gelaat het. Daardie laaste dag. Naby die huis het ek n yslike uil raakgery. In trane uitgebars en onbeheersd gehuil van skrik.
Die vrydagaand het ma en pa die kinders gebring. Hulle was haastig. Syt met die groetslag n bakkie met heerlike bruin vetkoekies na my uitgehou. “Laat dit goed gaan met jou,” het sy gesê en my teer gesoen. Die volgende oggend het ma se siel haar liggaam verlaat. Daar langs die pad naby Louis Trichardt.

Ek het baie keer gewonder wat ek sou doen as ek moes weet daardie dag, dat dit my laaste kuier by ma was. Sou ek daar gebly het. Haar dag en nag opgepas het, sodat die engele haar nie kon kom haal nie. Sou ek voor God gelê het en hom gesmeek het om haar nie so gou al te kom haal nie.
Maar ons weet en ons ken nie die uur wanneer Jesus ons kom haal nie. Hier waar ek sit na soveel jare, pyn my hart as ek dink aan ma en ons laaste kuier saam. Maar ek koester dit in n spesiale kamer in my hart.  Want ek weet...daar bo in die hemel wag sy vir my. Daar gaan ons mekaar weer in blye weersiens ontmoet. Daar waar geen afskeid is nie. Waar daar geen laaste kuier is nie. 

Monday, February 11, 2013

'n Ding met n ring

‘n Ding met ‘n ring

Ek en skoonma kon vir ure kuier.  Ons het ‘n teetjie gemaak. Ons stoele op die klein stoepie by die agterdeur gesit.  Terwyl ons oor die groen vallei agter haar huis in Durban uitkyk het ons kopstukke gesels. So het ek al die donker familie-geheime leer ken. Dinge wat my man en sy suster nooit eers geweet het nie.
So vertel sy my een laatnag van haar ma se tante en die se man “Oompie” wat iewers in die ou Wes-Transvaal op ‘n plaas gewoon het. Die tante het ‘n pragtige antieke ring gehad wat sy nog by haar ma gekry het, wat dit weer by haar ma gekry het. Jare lank in die familie. Behalwe die sentimentele waarde, baie werd in rand en sent.
So vertel skoonma het hulle nog die Desember vakansie vir kersfees na die oom en tante gereis. Met die wa en perde was dit omtrent drie dae om daar te kom. Dit was ‘n heerlike vakansie en sy wat Cornelia was, het haar verkyk aan die yslike knoets van ‘n ring aan die tante se vreeslik opgeswelde vinger. Want het ouma vir haar vertel:die ring sou eendag na haar toe kom, siende dat Oompie en tannie geen kind of kraai gehad het nie. Syt gewens die tannie se vinger was nie so dik geswel nie. Sy sou wat wou gee om die ring net eenmaal aan te pas. Droomverlore het sy voor haar sit en staar, en gedroom van die dag dat die ring aan haar skraal vinger sou pryk. Tog so jammerte dat die ring nie kon af nie.
“Kind,” het ouma vir haar gesê,”as tannie moet sterwe terwyl sy so opgeswolle is, weet ek nie wat ons gaan maak nie. Daai ring kan nie eers afgeknip word nie. Die vinger is te dik geswel. Dit sal darem ‘n jammerte wees as sy met die ring en al die hiernamaals moet binnegaan. Die enigste manier om daardie ring af te kry, sal wees om tannie se vinger af te kap, en dit sal ons nie kan doen nie.”
Skoonma vertel hulle was skaars by die huis toe daar tyding kom dat tannie afgesterf het. Daar is onmiddelik begin met voorbereidings vir die tog terug na Oompie se plaas. Ouma was baie hartseer, maar al wat skoonma aan kon dink...was die ring. Ten einde laaste gaan sy nou die ring kry. Sy het getwyfel of ouma dit dadelik vir haar sou gee, siende dat sy nog nie eers veertien was nie.
Twee dae na tannie se oorlye kom hulle asvaal van die stof en moeg tot op die been op die plaas aan. Oupa het die arme perde gedruk sodat hulle gouer daar kon kom. Van die ander familie kom hulle tegemoet. Die tantes val mekaar om die hals en huil droewig. Ouma snuit haar neus. “Waar is sy? Ons moet haar uitlê en reg kry vir die begrafnis.”
Die ander tannies kyk net stom na ouma en van hulle begin weer opnuut in hulle sakdoeke snik. Op die droewige toneel verskyn Oompie. Stemmig geklee in sy swart pak met die swart rouband om die arm.
“Jong,” sê skoonma, “en toe is die duiwel los. Want, sal Oompie toe te vertel he, hy het tannie klaar begrawe, want dit was glo te warm. Hy was bang die liggaam sou nie behoue bly nie.”
Ouma was stomgeslaan. Sy kon nie glo wat sy hoor nie. Maar wat kon sy doen. Oompie kon seker met sy vrou doen wat hy wil.
Later die middag het al die familie om tannie se graf vergader. Die dominee het ‘n paar woorde gespreek, en toe het die tannies trekkerig weggespring met “Ek sien ‘n nuwe hemel kom....” Party het hardop gesnik. Van die tannies het swaar teen hulle mans of kinders aangeleun.
Hulle was nog nie by...”God self sal by ons bly” nie, toe skoonma sien hoe ouma spierwit word en met geskokte stokstywe oe na Oompie kyk. Skoonma dog eers ouma kry ‘n oorval van smart. Maar toe sien sy ook waarvoor ouma kyk. Sy skrik toe so groot, dat sy haar asem hoorbaar intrek en hardop sê: ”haai nee! O my hemel, mammie het mammie gesien...tannie se ring is aan Oompie se pinkie. Hy moes haar vinger afgeknip het om die ring af te haal.” Ouma druk haar mond toe, maar sy spartel om los te kom, en sê met die eerste asemteug wat sy weer kon vat: ”dis hoekom hy tannie so gou begrawe het...sodat ons nie haar af vinger kon sien nie!”
Skoonma het nooit die ring gekry nie. Van die ander familie het later vertel dat Oompie kort na tannie se dood weer met n jong vrou getrou het. En die lieflike familierfstuk aan haar vinger gesteek het. Of sy gewete hom gery het en of die jong vrou hom klaar gemaak het weet niemand nie. Hy is kort na sy huwelik oorlede. En die pragtige ring vir altyd vir die familie verlore. 

Saturday, December 1, 2012

Pa en die boemelaars


Pa en die boemelaars

My pa was al oorlede toe daar een aand laat gedurende ‘n vreeslike storm n dringende geklop aan die voordeur was. Burt is af voordeur toe en ek het bo by die venster uitgekyk om te sien wat aangaan.
Twee vreemde mans het koud en nat voor die deur gestaan. Toe Burt oopmaak vra hulle ewe beleefd hulle wil net die ou oom sien asseblief. Burt vertel hul toe dat pa oorlede is. Die twee kyk geskok na mekaar. Radeloosheid duidelik te lees op die son verweerde gesigte. Burt kyk op na my waar ek uitloer. Ek trek my skouers op. Hy bekyk hulle en staan toe terug dat hulle kan inkom.
Ek hoor net potte en panne en gedempte stemme uit die kombuis toe ek by die trap gaan luister. Hoor hoe iemand die mooiste gebed doen. Baie later kom Burt kamer toe. “Ek kon hulle nie net so wegstuur nie,”sê hy, “as pa hier was sou hy hulle ingenooi het. Hulle het blykbaar al ‘n paar keer hier by pa geeët en koffie gedrink as hulle deur George gaan.”

Ai my pa en die afvlerk-mense. Hy kon nie by hulle verbystap sonder om n rand of twee te gee nie. Nadat hy oorlede is sien ek eendag uit my kantoor die boemelaar wat so by die huis ronddraai. Ek sien hoe hy in die boom kyk en toe baie teleurgestel wegstap. Millie staan in die deur, trane in die oë. “Mevrou hy soek kos, Oubie het altyd vir hulle sakkies kos in die bome opgehang. Dit was nou nadat mevrou so kwaad was omdat hy altyd die mense kos gegee het.” Ek weet nie of ek my verbeel het nie, maar ek is amper seker ek het n beskuldiging in haar bruin oë gewaar.
Ek het lank doodstil bly sit, daar in my mooi kantoor. Ek het skuldig gevoel en weet tot vandag nie of ek reg of verkeerd was nie. Ek het pa die dood voor die oë gesweer as hy weer n boemelaar in my huis inbring. Dit was nadat pa die jongman met die hartseer storie ingenooi en kos gegee het. Later was die mannetjie skoonveld en so ook my skoondogter se baie duur fiets.

Pa het geen kwaad in die mense gesien nie. Hy het elke storie vir soetkoek opgeeët. Vir hulle kos gemaak en saam met hulle gebid. Vir hulle van sy beste klere gegee. Hom vir dae bekommer of die arme siel toe by die familie uitgekom het waarheen hy glo op pad was.
As dit reën en dit is so koud hom bekommer oor die mense wat nie n huis of warm klere het nie. Gewonder of iemand vir hulle kos gee. Of hulle medisyne het. Gewens hy was skatryk dan sou hy ‘n groot plek bou en hulle kan sommer almal daar kom woon.
Pa was op ‘n keer vir dae vir my kwaad nadat ek n bedelaar by die deur weggejaag het. Hy het my ignoreer asof ek n gees was. Beskuldigend na my gekyk as ek kos inskep of koffie drink. Ek het naderhand so skuldig gevoel dat elke stukkie brood swaar by my keel afgegly het.
Ek het een jaar die heerlikste appelkoos{jam} gekook. Wil gedoen wees vir n ma wat voltyds werk en baie besig is in die kerk en haar gemeenskap, het ek myself stilletjies op die skouer geklop. Die rye en rye bottels op die spensrak bewonder. Tot die dag toe ek vir die pastoor een bottel wou gee, en moes agterkom dat daar nog net twee bottels verlore op die rak staan.
Ek het een gil gegee wat Millie vadoek in die hand met verskrikte oë spensie toe gebring het. Sy het van my na die twee bottels gekyk en weer na my. Toe met groot oë saggies gesê: “mevrou oubie het dit vir die boemelaars gegee wat kom kos soek. Hy besef nie hoe duur dit vandag is om konfyt te kook nie.” het sy smekend gesê. Teen die tyd het pa ook kom loer wat aangaan. Hyt skuldig soos ‘n kind wat betrap is op kattekwaad vir my gekyk.
Ek het na pa gekyk en die enos in my bloed het bietjie bedaar. Want in sy groot bruin oë het ek die liefde van God gesien. Wat onwrikbaar geglo het dat dit ons plig is om na die armes om te sien. Dat ons net die mens en die behoefte moet raaksien, en nie dit wat die mens daar gebring het nie. Dat ons nie ‘n honger mens sonder ‘n stukkie brood moet wegstuur nie.
Dat jy nie weet of die bedelaar voor jou dalk ‘n engel is wat God gestuur het om jou te toets nie.

Of pa reg of verkeerd was weet ek nie. Daar staan vandag n bedelaar op elke straathoek. Dit is onmoontlik om vir elkeen te gee. Veral vir die fris jongmanne wat so bedel. Want sê die Bybel nie, wie nie werk nie mag nie eet nie. Dan dink ek weer hoeveel het hul werk verloor en kry nie ander nie. Dit is ‘n moeilike saak en kan nie hier opgelos word nie. Ek dink mens moet na jou hart en die Heilige Gees luister.

Wat ek wel weet is dat pa liefde en meelye vir sy medemens se nood gehad het. Dat dit vir hom nie ‘n saak van moets en moenies was nie. Net ‘n eenvoudige besluit en dit was om te gee waar hy nood gesien het. Want al sou ons die tale van mense en engele spreek en ons het nie die liefde nie, dan is ons maar ‘n klinkende metaal of n luidende simbaal. Want nou bly geloof, hoop en liefde. Maar die grootste bly maar die liefde.

Tuesday, November 27, 2012

Wat is in 'n huis


Wat is in ‘n huis

Ek het na letterlik elke huis te koop aangebied in George gaan kyk. Die eiendomsagent het my later met dowwe oë aangekyk. Haar glimlag was so vals soos Pamela Anderson se julle weet wat. “Wel daar is nog een huis,” het sy stadig gesê,”maar ek dink nie dit is wat jy soek nie.”  Ons het om die hoek gery en sy het voor ‘n hek stilgehou. Dit was in ‘n ingeleefde buurt met bree teerstrate omsoom deur groot eikebome.

‘n Ouerige huis het ver agter in die erf so groot soos ‘n plot gestaan. ‘n Reuse, reuse Akasia boom het langs die oprit gestaan. Sy takke oopgesprei oor die groot grasprek. Die agent het gepraat, maar ek het nie gehoor wat sy sê nie. Al wat ek raakgesien het was die honderde struike wat woes en mals in die reuse tuin geblom het. Bouganvillas het in trosse uit die bome gehang. Die soet geur van katjiepiering het die lug gevul toe ek in verwondering uit die motor geklim het. ‘n Plaat oranje en geel clivias het onder die bome en struike in die oorgroeide voortuin gestaan.

Drie yslike Jakarandas het trots aan die anderkant van die paadjie gestaan. Ten volle geklee in hul pers kleed. Aan hulle voete het honderde agapantus in vol blom gestaan. Grondbedekkers het ongesnoei en wild onder hulle gegroei. Ek kon sweer ek hoor die feetjies fluister tussen die plate ivys.

Die tuin was ‘n lushof vol kleur en geur. Drie wilgebome het in knus bymekaar gestaan en ek het geweet: daar gaan ek ‘n dammetjie maak. Daar gaan ek wilde boomvarings en broodbome plant.  Daar moet ‘n bankie kom waarop ek kan sit en lees.
Ek was soos Alice in wonderland. Ek het aan die blare van die Australiese wildebessie gevryf. My verkyk aan die ander Akasias wat sonder plan of patroon geplant is. ‘n Digte heining het die erf voor van nuuskierige oë verberg. Aan die een kant en agter die huis het reuse eiekebome in volle groen drag gekleed gestaan. Hulle takke het aan mekaar geraak en ‘n veilige hoekie vir ‘n rustelose siel geskep.’n Regte egte “kersfeesboom” het aan die anderkant van die huis gestaan.

“Hoeveel?” het ek hees gevra. Trane het oor my wange gerol en ek kon sien die agent dink ek is getik.  “Maar jyt nog nie gesien hoe lyk die huis nie?” het sy verbaas gevra. Ek het na haar gekyk en geweet sy dink net in rand en sent. Haar siel verstaan nie, dat jy badkamers kan oordoen en mure kan verf nie. Maar dat dit ‘n leeftyd neem om die paradys te skep. Kon die vrou nie sien dat ons nou binne in Eden staan nie.
Dit was toe duurder as wat ons begroot het, maar ek het maniere om my sin te kry. Eers huil ek, dan word ek stil en dan word ek dikbek. Ek weet nie waarvoor my man die bangste is nie...Maar binne die volgende paar weke het groot trokke die meubels kom aflaai. Het helder kinderstemme die groot erf met sy groen grasperk gevul. Baie ekstra hande het die uitpakkery in n japtrap afgehandel. Die ou familie buurt met sy groot bome langs die strate het ‘n deel van ons geword.
Elke meubelstuk het sy plek in die huis gevind. So asof daar reeds toe die huis gebou is, beplan is vir my meubels. My groot hemelbed het regoor die groot vensters gestaan wat op die groen tuin uitgekyk het.

Onder die matte het ek die pragtigste hout blokkiesvloere ontdek. Die matte sonder seremonie opgelig en weggegee. Geen wit mure vir die huis nie. Die gang is sonskyn geel geverf. Die eetkamer liggroen met vrolike gordyne. Sussie se groot kamer pers en groen. Nuwe verfmetodes is beproef. Pa het nuwe teels in die waskamer en kombuis gesit. My badkamer het ‘n groot hoekbad gekry waarin ma en pa toe nog knus kon pas. Waarin die kleintjies in die familie drie-drie kon bad of sommer maak of dit ‘n swembad is.
Die kinders het ‘n ruim familiekamer gekry met groot vensters en skuifdeure, wat naweke gevul is met hulle vriende. Die ou huis het nie net ons gesin omarm en veilig in sy boesem gehou nie. Dit het die buurt se se kinders se tweede tuiste geword.  Daar was altyd genoeg brood, kaas, konfyt en polonie vir borde vol brood wat gemaak is deur wie ookal honger was. Millie se heerlike etes het op die stoof staan en prut, genoeg vir ons en vir enige een wat wou saam eet. Oupa het groot bakke vol bruin vetkoekies gebak waarvan die kinders nie genoeg kon kry nie.

Saans het vriende sommer gou oorgestap vir ‘n vinnige koffie, of ons na hulle. Na ‘n genoeglike kuiertjie teruggestap onder die maanlig wat sy vriendelike strale oor die bree straat gegooi het.
Afvlerk kinders het soms saans uitgeput van al die moeilikheid by hul ouerhuise en in hul lewens opgekrul op die banke in die familiekamer rustig lê en slaap. Iemand in die gesin sou wel ‘n duvet oor hulle gooi. Tussen snikke deur hulle harte en emosies kom ontlaai omring deur gesinslede wat troos en raad gee. Baie geheime lê nou nog veilig bewaar tussen die mure van die huis.
Op die groot grasperk voor, amper so groot soos ‘n rugbyveld is rugby en krieket gespeel. Ouboet het die bal vêr oor die erf en oor die heining tot in die straat geskop. Die kinders jillend agterna . Fred, ons yslike St Bernard blaffend agter die kinders aan, of rollend saam met ouboet oor die gras. Hy het kleinboet sommer aan sy hemp se kraag beetgekry en oor die gras gesleep.

Die buurt se kinders kon nog heerlik almal saam in die straat voor ons huis speel. Die meisies het skelmpies bymekaar klere en grimering geleen en in groepies geheime gesprekke gevoer. Onder mekaar gegiggel en soms ‘n paar trane gestort.
Die kinders het ook lekker onder mekaar baklei, maar ook geleer om weer te vergewe. Dat vriende en vriendskap kosbaar is en gekoester moet word.
Die dorp se 50cc motorfiets bende het by Lidus kom raad vra. Daar is die probleem bepraat en bewerk totdat die fiets weer kon “rev” en trek soos ‘n sestienjarige wou hê hy moes. Hier het hy ook verlief geraak op die madonna oorkant die pad wat reeds op 15 die seuns laat struikel het met haar bultende bates.
Met verjaardag partytjies het die kinders se vrolike stemme saam met hulle musiek in die naglug opgeklink. Tente is opgeslaan en vure aangesteek vir ouboet se 21st. Ouma het by die tafel gesit en ‘n groot erdeskottel artappelslaai gemaak. Oom Japie het al van vroegdag die skaap op die spit bespuit en gesmeer met allerhande geheime olies en kruie. Met sussie se sweet 16 is die bure vooraf gewaarsku. Groot luidsprekers is opgestel en tot 11 uur het die swetterjoel jongmense geeët, gelag en gedans. Veilig onder die ou huis se dak.
By een geleentheid het Johnny ‘n pak slae vrygespring deur so hoog soos hy kan in een van die groot bome te klim. Daar het hy die hele dag bly sit, met Lidus wat vir hom kos en koeldrank aandra. Die motor het byna van self die pad met sy bekende draaie en bakens gevolg, en ons veilig by die huis besorg.
Oor die alle het Millie ons huishoudster van al die jare die septer geswaai. Sy was die kinders se tweede ma. Hulle het geglo daar is niks wat Millie nie kon regmaak nie.
Kerstyd is ons groot kersboom in die hoek van die familiekamer opgeslaan. Vrolik toegedraaide geskenke het die ruimte onder die boom gevul. Oukersaand het ons om die boom vergader. Kersliedere gesing, die kersverhaal gelees. Persente uitgedeel en weggelê aan die feesmaal wat tradisioneel elke oukersaand voorberei is. Daar was altyd vriende of familie wat die aand saam met ons geniet het. Daar is baie gelag en die kinders se oë het geblink.

Ekstra tafels is gewoonlik in die familiekamer ingedra wat sommer die res van die vakansie daar gebly het. Want die Transvaal familie het kom kuier. Bedags het almal by die see en meer geboer. Saans as die kinders moeg in hulle bedjies gelê het, het die grootmense by die tafel gesit en kaartspeel of gesels. Hope koppies koffie gedrink en genoeg geeët vir die res van die jaar.
Dit was hier waar ons gereed gemaak het vir ouboet se troue met die meisie wat ons so liefgehad het soos ‘n eie dogter. Haar klokkielag het deur die tuin en huis weerklink, en sy kon nie genoeg kyk na die ring aan haar skraal vingertjie nie.

Dit was ook hier waar ons slegs 23 dae later die nuus ontvang het wat die aarde van sy baan laat tuimel het en die maan se glans laat verdof het. Die huis en erf was gevul met die krete van ongeloof en pyn.  Die mure van die huis was die stille getuienis van die stomme verdriet en die magtelose smartlike trane wat snags in die kamers van die huis gestort is.
Toe ouboet terugkom na sy tyd in Amerika het hy duisende kersliggies saamgebring. Hy en kleinboet het die huis en tuin in ‘n towerwereld van derduisende flonkerende liggies omtower. Stringe motors het saans in die straat gestop en mense het in die towertuin kom rondstap. Die kinders van die buurt het stil, heeltemal teen hul rumoerige aard in, op die gras kom sit. Saggies onder mekaar gesels, so asof hulle bang was om die magiese atmosfeer te versteur.

Dit was ook hier waar ons die nuus moes verwerk dat 4 van ons vriende op ‘n plaas vermoor is. Van Mynhardt se broer wat deur ‘n kragkabel doodgeskok is. Ek het koppies trooskoffie aangedra na my hartseer vriendin wat in ‘n bondel in my mooi, rustige sitkamer gesit het. My vriendin wat verkrag is het kom koffie drink. Haar mond het gelag maar in haar oë en haar bewende hande was die verskrikking van wat gebeur het duidelik sigbaar.
‘n Jong vriendin wie se verloofde onder die vermoordes was het in my tuin kom sit. Haar groot blou oë was blink, maar sy het nie gehuil nie. Net in haar sagte stem vertel hoe sy nie kan sin maak uit dit wat gebeur het nie. Vir my sy briewe en gedigte aan haar kom voorlees. Ek het net geluister en sag aan haar hand geraak, want ek het geweet geen woorde kon haar troos nie.

Pierre die oorgewig, arm ryksmanskind het gereeld sy hart by ons kom leegmaak. Troosteloos sit en huil oor sy bedorwe ma wat sommer eensklaps besluit het hy moet by sy biologiese pa gaan woon wat hy in 15 jaar nooit gesien het nie. Die lewe by sy grootmaak pa vir wie hy baie lief was opgee. By sulke geleenthede het ouboet hom gegryp en op die gras met hom gaan stoei. Ek hoor nog sy skaterlag oor die grasperk opklink. Die bewondering in sy oë vir ouboet se brute krag. Die lekkerte om iewers te behoort al is dit ook net vir paar uur.

Hier het sussie se bewonderaars vir haar ringe in mooi dosies op haar vensterbank gelos, wat sy maar weer moes teruggee. Hier het sy verlief geraak op haar huidige man, al is hulle jare later na vele onderstrominge eers getroud. Hier het sy die grootste gedeelte van haar lief en leed jare deurgebring. Ure voor die klavier in haar kamer gesit. Drome gedroom oor haar toekoms. Menige jong seun in die buurt se hart gebreek omdat sy eerder haar lewe wou geniet as kys. Saam met haar vriende gelag en gekuier. Veral met Lelanie wat soos ‘n dogter in die huis was.
Lelanie se ma het MS. Saterdae as haar man gholf speel het sy koffie kom soek. Een strook deur gesels en gelag. Soms hartseer geraak omdat sy bang was sy gaan nie haar dogters sien groot word nie. Dit gaan nou baie sleg met haar. Hul woon in Amerika en sy kan nie meer praat nie. Maar haar helder lag klink nog in my sitkamer in die ou huis. Ek sien haar nog op die klippe by die visdam sit en lag, soos die aand op sussie se sweet 16 toe ons tot byna dagbreek buite gesit en gesels het.

Rudolf se groep vriende uit Amerika het daar kom oorslaap die aand voor hul vertrek. Toegebondel in slaapsakke teen die Kaapse koue. Die vorige aand het ons vir hulle ‘n tipiese suid-afrikaanse ete voorgesit. Wildsboud, bobotie, pampoensop, pampoenkoekies met sous, gebakte patats, elke lekkerte waaraan jy kan dink.
Die volgende oggend het ons vir hulle ‘n 5 ster ontbyt gemaak. Oupa het in die kombuis gestaan en heerlike bruin gebrande vetkoekies gebak. Dit was ‘n wenner. Sakke vol is saamgeneem om op die vliegtuig te eet.
Die paddas in die dammetjie het so geraas dat pa en Burt saans opgestaan het om dit te vang en in die rivier daar naby te gaan gooi. Maar die volgende aand net sodra ons lekker snoesig onder die komberse gele het het die paddakoor soos een man losgetrek..Dan spring hy en pa op en ek gil agterna:”julle doen niks aan my paddas nie!!!”
Jy bou ‘n woning met sand en steen en sement. Die argitek trek na vele beplanning vir jou n plan op en die bouer wyk nie daarvan af nie.

Maar ‘n huis word gebou met herinneringe. Met mense en emosies. Onbeplande vreugde en verdriet. Kinderstemme wat lag en gesels. Goeie en slegte dinge wat oor jou pad kom.
Die dag toe ons die huis verkoop het ek gesê dat ek nie eers gaan terugkyk nie. Dit was ‘n grou winterdag toe ek vir ek vir ‘n laaste keer die lang oprit afgery het. Die skadu van die reuse akasia het vir ‘n oomblik op my motor gehuiwer. Die Jakarandas se stamme was kaal. In die visdammetjie het die paddas gekwaak. Die agapantus se blomme was af en die geel en oranje gousblommetjies het die middelbedding omsoom.

Mynhardt het langs die straat met sy fiets gestaan. Ek het deur my trane vir hom gewaai. In die spieëltjie gesien hoe hy my motor agterna kyk. Toe het ek my flikker aangeskakel en links gedraai. Die vreemde pad na my nuwe vreemde huis geneem.

Met ons laaste vakansie in die Kaap het ons voor die huis gaan stilhou. Die meeste van die bome is uitgehaal. Die tuin is verwaarloos. Daar hang ‘n troosteloosheid oor die plek.
Ek het my oë gesluit. Helder kinderstemme het die tuin gevul. ‘n Groot hond het opgewonde geblaf. ‘n Motorfiets het gebrom. Ek kon die vetkoekies wat in die kombuis gebak word ruik. Millie se stem wat die kinders vermaan. Die helder klanke van ‘n klavier het na my aangewaai gekom. Ongestorte trane het my oë gebrand.
Burt het die motor aangeskakel en ons het weggery. En n leeftyd daar agter gelaat.

Saturday, November 3, 2012

Die dag van die nonne.

Die Dag van die nonne...

In die hoofstraat van my grootword-dorp, Middelburg staan ‘n klein Roomse kerkie. Om by ouma se huis te kom, moes ons nood gedwonge verby die kerkie loop. Ons was vrek bang, want naas die Engelse en die rooi gevaar uit Rusland was die katolieke die mense waarvoor ons die bangste was.  Die nonne in hul swart gewade was vir ons die verpersoonliking van alles wat boos was..

 

Ek en my niggie [Petro] het eendag al ons moed bymekaar geskraap en by die kerkie wat altyd oop was gaan inloer. Dit was skemer binne en in die gloed van ‘n paar kerse wat voor gebrand het kon ons die nonne sien werskaf. Een het skielik opgekyk en ons gesien. Iets vir die ander gese en omgedraai na ons toe. Sy het ‘n lang blink stok [so het dit vir ons gelyk] in haar hand gehad. Sy het daarmee na ons gewys en vinnig na ons aangestap gekom. Daar was ‘n blink lem aan die punt van die stok.[of so het dit vir ons gelyk]

 

Petro het ‘n woord gesê wat ons diep in die moeilikheid sou kon laat beland.  Ek het gegil, haar hand gegryp en ons het soos een man uitgestorm, die non al roepende agter ons aan. Ons het eers uitasem tot stilstand gekom toe ons by ouma se huis die trappies ophardloop en letterlik met die deur in die huis geval het. Dis toe dat ons agterkom dat ons die sak met inkopies, wel, verloor het. Ons het ewe onderdanig na ma en tant Sarie gestaan en luister.  Net elke tweede woord van die skrobering gehoor. Ons gedagtes was met ander goed besig.

 

Van die dag af was ons nog banger as ooit as ons daar verby loop. Die kinders by die skool het vertel dat hulle gehoor het die nonne steek die mense wat geoffer word met die einste lem wat ons gesien het in hulle harte. Die harte word dan uitgesny en almal moet daarvan eet. Hulle verkies, so het die kind vertel, jong meisies. Virgins. Ons was net baie dankbaar dat ons nog los kon rondloop. Ons ouers sou nie eers geweet het ons is geoffer nie.

 

So loop ons een reenerige dag ‘n week of wat later,  terug huistoe van die dorp af. Die reenwolke laat lyk die wêreld skemer en ons stap vinnig. Ons nader die kerkie. Ons sien hulle gelyk en gaan botstil staan. Twee nonne in hul swart gewade staan by die hekkie en gesels. Ons gryp mekaar se hande vas. “Oh shit” sis my niggie en alhoewel ek dit nie hardop gesê het nie, het ek presies dieselfde woorde in my gedagtes uitgespreek. Ons loop op wankelrige bene nader, maar hou hulle met valkoë dop. Ons het geen planne om op die jeugdige ouderdom van 14 offers te word nie.

 

Die nonne het na ons staan en kyk.  Die een het skielik omgedraai en vinnig die kerk ingeloop. Ons het haastig verby die kerk geloop. Net toe ons die straat wou oorsteek het ‘n stem na ons geroep. Ons het omgekyk. Die non het na ons aangestap gekom. ‘n Bruin papiersak in haar hand.

 

Ons het ‘n [duet-gil] gegee. Met groot oë na mekaar gekyk, en blindelings oor die straat gehardloop.  Die non al roepend agterna. Die bruin sak swaaiend in haar hand. Ons het gehardloop asof n trop wilde honde ons jaag. Maar die non tannie was defnitief in haar vorige lewe ‘n olimpiese atleet of hulle word spesiaal afgerig om so te kan hardloop om virgins te vang om te offer. Want as ons so in die hardloop oor ons skouers gekyk het was sy kort agter ons. Dis met die oor die skouer kykery dat ek my balans verloor en uitgestrek op die teerpad pad geval het.

 

Petro, dierbare ding wat sy is, het dood in haar spore gestop en terug gehol om my op te help. Te laat. Die non het langs ons gestaan. Ek het snikked op die nat pad gesit. My knieë nerf-af en bebloed. Ek was nou so moeg dat ek nie eers omgegee het of sy my gaan offer nie. Maar my niggie was nou vies en het ewe uitdagend na haar staan en kyk. My hand stewig in hare. En ek het gedink, as die tannie weet wat goed is vir haar, gaan sy nie nou verder met ons lol nie. Ek ken die trek op my nig se gesig baie goed, en dit voorspel niks goeds vir tannie non nie.

 

Die non het ons so staan en bekyk en toe uit haar maag begin lag. Syt geskud soos sy lag. Behoorlik dubbeld gevou van die lag. Ek het na Petro gekyk en geweet ons dink dieselfde ding. Nou is die een wat ons gevang het, nog mal ook. Sy het naderhand die trane uit haar oë gevee en toe hou sy die bruinsak na my niggie uit. Die het dit met ‘n agterdogtige trek op die gesig aangevat versigtig daarin geloer. Toe breed geglimlag en die inkopiesak uitgehaal. Ons het na mekaar gekyk en na die non wat ons nog glimlaggend staan en bekyk het. Toe soos een man in ‘n histeriese lagbui uitgebars.

 

Die einde van die saak was dat die gawe non vir ons mooi verduidelik het hoe dinge binne die Roomse kerk werk. Ons het dit nou nie alles verstaan nie, maar wel besef dat hulle wonderlike werk onder die arm mense doen. En dat hulle definitief nie die harte van jong virgins eet of hulle offer nie. In die jare wat gevolg het was ons ‘n paar keer as die lewe gedruk het vasbeslote om nonne te word. Maar my niggie was te lief vir dans en ek het aan engtevrees gely. Geen swart gewade vir ons nie.

 

Tuesday, October 30, 2012

Pa se vergeet siekte


Pa se vergeet siekte

Ek was in Sussie se kamer toe ek die slag hoor. Die huis was omtrent net glas. Uit haar kamer kon ek oor die balkon tot in die sitkamer sien. Ek het opgekyk en my pa in die sitkamer gesien. Hy het verbouereerd van die vloer probeer opstaan. Sy bril vasgeklem in sy hand. Ek het nader gestorm en hom opgehelp. Hy het verward  en verskrik met groot gerekte bruin oë na my gekyk. Hy kon nie verstaan wat hy plat op die  vloer soek nie.  Hy was skaars op sy voete, toe sy oë alle uitdrukking verloor en hy voor my oë op die grond neerslaan. Asvaal en met bewende vingers het ek Burt gebel..

Burt het pa dadelik na die dokter geneem. In die spreekkamer het hy nog so aanval gekry. “Verkalte are” was die dokter se uitslag. Hy mag nooit weer motor bestuur of alleen gelos word nie. “Hy het nie meer baie dae nie.” het die dokter gesê. Laat weet maar die kinders wat hom nog wil kom sien.

Dit het die begin van ‘n traumatiese tyd vir Pa, vir ons almal in die huis, maar veral vir Burt ingelui. Hy was die een wat die motor se sleutels moes wegvat by pa. Pa het dit tog so geniet om die kinders rond te ry. Hy het onbegrypend na Burt gekyk en hom in sy kamer toegesluit. Later het Millie met trane in die oë kom se:”Oubie het vreeslik gehuil.”

Op die oog af was pa nog dieselfde man wat baie jonger gelyk en baie fikser as die meeste mense van sy amper 70 jaar was. Verstandelik baie vinnig agteruit gegaan. Die een aanval op die ander het gevolg. Na so aanval kon hy niks onthou nie. Burt was die een wat hom met die grootste deernis opgetel en sy wonde versorg het. “Kom ou dad,’ sou hy sê en Pa sorgsaam ophelp, “alles is reg, kom drink gou die bietjie coke.” Pa se gunsteling drankie. Dan sou hy maar ‘n pleister plak, of room aan die blou kolle smeer.

Burt het Pa so goed geken. Hy het sommer gesien as Pa ‘n aanval gaan kry. Hy het dan pa se aandag probeer aflei. Soms het dit gehelp. Dit het dan gelyk of pa uit ‘n droom wakker word. Soms kon hy keer dat pa homself nie te veel beseer nie.

Ons moes hom van sy kamer op die boonste verdieping ondertoe skuif na hy een aand ‘n erge aanval gekry het.Die kamer was gesluit. Ons het kom hoor rondval in sy kamer, dan was dit weer lank stil. Ons was amper mal aan die anderkant van die deur. Ten einde laaste moes Johnny met ‘n leer opklim en oupa se venster van buite oopbreek. Dit was chaos in die kamer. Oupa het bebloed op die vloer gesit. Stukkend gevalde meubels het om hom gele. Hy het bleek en met groot verskrikte oë na ons gekyk. Ek het geskok in die deur bly staan. Pa het sy bril opgesit en na my gekyk en gevra: “Goeienaand, en wie is u en van waar is u”? Ek het van skone skok histeries begin lag.

Ek het vir hom gesê wie ek is, maar hy het net nog meer verward geraak. Benoud vir Burt beduie dat die vreemde vrou moet loop, want hy het net in sy onderbroek en onderhemp op die vloer gesit.

Hierna het dinge baie vinnig agteruit gegaan. Hy het gehuil dat hy niks van my een suster hoor nie. Dit nadat sy getrou gebel en geskryf het. Hyt al hoe meer name ens vergeet. Die vreemdste was dat hy baie dinge uit sy kinderdae helder onthou het. Oor sommige dinge het hy gelag oor ander gehuil soos ‘n kind. Pa se eens briljante wakker brein het met rasse skrede sy vermoë verloor om op sy eens flinke manier te funksioneer. Vir my was dit asof daar elke dag nog ‘n liggie in Pa se oë afgeskakel is.

Tot op sy laaste dae het hy ‘n ongelooflike kennis van die Bybel gehad. Kon hy verse aanhaal asof hy dit gister geleer het. Sy stem het nog elke dag in gebed opgeklink.

Op die oog af was Pa nog dieselfde. Hyt nog saam met Burt gaan visvang. Elke dag sy oefening gedoen. Bedags vir Millie in die huis gehelp. Vir die kinders groot bakke goudbruin vetkoek gebak. By die eetkamertafel in die sonnetjie gesit en bybelstudie doen. Saans vir ons gewag op die stoep, sodat die kleinman die lang tuinpaadjie na hom kon oploop op sy wankelrige beentjies. Skelm vir die bedelaars sakkies kos aan die boom voor die huis gehang. Vir ure saam met Burt in die see vis gevang.

Hyt sy boeke, allerhande lee blikkies,boksies, skroefies enige “scrap” goedjies in sy kas gepak. Sy klere op sy boekrak gegooi. Sy laken aan die bed vasgewerk. Ontsteld geraak as Millie sy beddegoed of klere was. Baie kere onbegrypend na Burt gekyk as Burt ‘n pleknaam noem of van iemand praat wat hy nie meer kon onthou nie. Soms net vir lank op sy hande sit en afkyk.

Hy het oor en oor vra oor die kinders uitgevra. Waar hulle nou woon en wat hulle doen. Soms gedink hulle is nog op skool. Partykeer moeilik geraak en gesê hulle maak lelik met hom. My telkemale per dag herinner om my oudste broer wie hy vir jare nie gesien het nie, te kontak, al het het hom al verseker my broer gaan hom kom besoek.

Burt het Pa vir nog toetse geneem. Die uitslag was: Tipe epileptiese aanvalle as gevolg van ‘n breinbesering wat hy opgedoen het in die ongeluk waarin Ma baie jare vroeër oorlede is. Volgens die dokters was die skade noual baie groot en daar was niks wat hulle kon doen nie. As pa sy kop te lank agteroor hou, sou hy beroerte kry en sekerlik sterf. Ons het pa nie alleen gelaat nie. Burt se hart was gebreek, want pa was vir hom “ou dad” met wie hy alles kon deel. Sy groot visvang pel.

Saans het hy en pa op die stoep gesit en gesels. Ek het gesien hoe hy elke beskikbare uur saam met pa deurbring. Hoe hy  die tyd saam met pa uitgekoop het. Elke uur gekoester het.

Ons het maar gelag vir pa se dinge. Een middag toe ek by die huis kom, kom pa asvaal aangestorm. Ek skrik groot want ek kon sien hy wil slegte nuus met my deel. “Het jy gehoor wie is vandag dood?” vra hy uitasem. Ek word koud, en skud stom my kop. Die trane loop uit pa se oë. “Totius,” se hy, “kan jy glo, Totius.” Ek het my gesig in my hande verberg en gelag dat die trane loop: van verligting, en ja van skok, en hartseer oor my pa. Hy het ewe ‘n soet koppie koffie in my hand kom druk. ‘n Tissue gebring omdat ek so snik. As ons nie gelag het oor party goed nie, sou dit ons onder gekry het.  

Volgende keer: PA se dood

Tuesday, October 16, 2012

Die Straf


Die straf

So kuier ek weer die naweek by my vriendin Annemarie op die plaas. Ons besluit al in die bus op pad plaas toe ons gaan dadelik ons huiswerk doen. Daar aangekom vaar ons die vlaktes in en dus geen huiswerk nie. Saterdag-oggend is dit dorp toe, daarna tee by vriende saam met haar ouers. Om ‘n lang storie kort te maak..teen sondagaand was daar nog nie ‘n steek huiswerk gedoen nie.

Sondagaand onthou ons met ‘n skok dat ons more-oggend ons naalwerk moet ingee vir punte. Juffrou Barnard het dit spesiaal huistoe gestuur vir die doel. Ons kyk met groot oë vir mekaar. “Môre, maak ou Barnard ons dood, geniet maar jou laaste aand op aarde,” sê my vriendin en verberg laggend haar gesig in haar halfklaar babarok. Wel daar was geen manier hoe ons nou die rokke kon klaarmaak nie. Na baie beraadslaging besluit ons om dit by die huis te vergeet.

So op die maandag was die gewoonlik sagte juffrou nie lus vir ons streke nie. Sy’t ons sonder omhaal elkeen aan ‘n arm gegryp en in die huishoudkunde sentrum gaan toesluit. “En julle kry nul.” het sy nog vir oulaas kwaai oor haar skouer gesê. Binne minute het ons vergeet waarom ons daar was. Ons het elke oomblik geniet. Ek het op ‘n stukkie papier geskryf: “Hier sit ons nou alleen, met net die huishoudkunde mure om ons heen.” Ek het dit vir my vriendin voorgelees en ons het histeries gelag. Ons het beurte gemaak om juffrou na te maak en lawwe liedjies gesing.

Die klok het gelui en ons vriende het by die vensters met ons kom gesels. Dit was so geraas dat juffrou binne minute agter ons gestaan het. Haar groot groen oë het geblits. Sy’t ons onsag in die skemer stoorkamer ingedruk en die deur gesluit. Ons het op die koue vloer gaan sit en gewonder of dit nie teen die wet is nie. Maar dit sou nie help om te kla nie, nie een van ons se ouers sou enige simpatie met ons he nie..inteendeel.

Later het ons honger geword. Die groot yskas was gestock met karamel kondenmelk en room. Koekies het op die kas gestaan. Die groter kinders sou seker tert of iets maak. Ons het ‘n yslike ‘tert’ gemaak en dit sonder seremonie opgeeët. Southappies wat ons later sou uitvind vir die personeelvergadering na skool bedoel was, het hul pad in ons kele afgevind. Ons was lankal nie meer honger nie. Ons oë was stokstyf in ons koppe en my vriendin was net so naar soos ek. Maar ons het nie gestop voor elke krieseltjie opgeeët was nie.

Ons was nie meer lus vir lag en gesels nie. Lusteloos het ons op die koue vloer gesit en net na mekaar gekyk. Gewens dat ons maar liewer die rokke klaargemaak het. Gewens dat ons liewer dood was. Skielik het ons ‘n skaduwee onder die deur gesien. Dit het stil gestaan en dan weer beweeg. My vriendin het die besem gevat en onder deur die deur na die skaduwee geslaan. Daar was ‘n harde uitroep en ‘n lelike woord wat glad nie by ‘n juffrou pas nie. Syt vir juffrou raak geslaan.

Die deur is oopgeruk en juffrou Barnard het daar gestaan. Sy was woedend. Met blitsende oë het sy na ons gekyk..en toe het sy die wanorde in haar netjiese stoorkamer raakgesien. Die lee blikkies en houers. Besef ons het haar keurig voorbereide canapés als verorber. Juffrou het probeer praat, maar haar asem was weg. Sy het haar oë toegemaak. Hulle weer oopgemaak en gesien sy het gesien wat sy gesien het...En wat sy gesien het, was nie ‘n nare droom nie, maar die werklikheid.

“Julle ellendige kinders, staan dadelik op,” het sy naderhand deur haar tande gesis. Ons wou, maar ons kon nie. Syt my aan my arm opgeruk. My hardhandig vorentoe gestamp. Ek was nie eers verontwaardig nie, eerder dankbaar dat sy ons nie daar op die plek vermorsel het nie. Die stamp was egter nie so goeie ding vir my oorvol liggaam nie, want ek dink die kos het in elke vesel gesit. My maag was net te klein vir alles wat ons geeët het.

Toe juffrou stamp, sê my maag:” tot hiertoe en nie verder nie.” Wel al wat ek kan sê is, so naar was ek nog nooit weer nie. My vriendin het net ‘n baie aardige kreun geluid gemaak en my voorbeeld gevolg.

Die res van die dag het ons met koue lappies op ons koppe in die siekekamer gelê. Ons het te sleg gevoel om grappies te maak. Juffrou het kom inloer.Haar hand was koel op ons warm voorkoppe. Syt nie gepraat nie, so dalk het ek my net verbeel dat ek ‘n sagte glinstering in haar oë gesien het.